Vandag, was vir my ‘n bittersoet afskeid
van ‘n geesgenoot, die alombeminde T.T. Cloete.
Alvorens
ek New York toe is om ontvangs te neem van die toekenning, in Oktober 1994, is
ek deur Annatjie Botha (Streekraad vir Kultuursake) genader om ‘n portret van
TT Cloete uit te voer as geskenk vir hom en wat ook sou dien as die voorblad
van ‘n program vir: ‘T T CLOETE IN KLANK, WOORD EN BEELD’.
TT
Cloete het die aand, ‘n onvergeetlike indruk op my gemaak. Ek het gereeld
gedroom dat ek hom graag weer eendag sou wou ontmoet en dat ons dan rustig in
staat sou wees om ‘n in diepte gesprek te kan voer.
Dus
was ek sprakeloos toe ek uit die bloute uit, verlede maand, 11 Junie, ‘n e-pos
van hom ontvang het! Na 21 jaar, meld hy toe onverwags aan, hier op my
rekenaarskerm……
Ek
deel die volledige briefwisseling wat daarna plaasgevind het. Ek was van plan
om sy uitnoding om middagete saam met hom te geniet, vir volgende week te rëel
(net voor my vertrek na Parys).
11 Junie 2015 2:24nm
BESTE ALETA
DIT IS NOU AL BAIE JARE GELEDE DAT JY DIE SKILDERY VAN MY GEMAAK HET. EK KYK NOG ALKE DAG MET WAARDERING DAARNA, MET MOOI HERINNERINGE.
EK VOLG DIE NUUS OOR JOU EN LEES JOU WEBSITE. JY IS ALTYD IN MY GEDAGTES.
EK IS NOU 91 JAAR OUD EN NOG STEEDS AKTIEF EN KREATIEF. DIE POLIO HET METTERJARE MY BENE VERSWAK MAAR EK LOOP GOED GENOEG MET MY KRUKKE EN REIS NOG BAIE ROND.
MET WAARDERING VIR JOU STEEDS KREATIEWE BESTAAN. GOEIE EN DANKBARE WENSE VIR JOU.
TT CLOETE
DIT IS NOU AL BAIE JARE GELEDE DAT JY DIE SKILDERY VAN MY GEMAAK HET. EK KYK NOG ALKE DAG MET WAARDERING DAARNA, MET MOOI HERINNERINGE.
EK VOLG DIE NUUS OOR JOU EN LEES JOU WEBSITE. JY IS ALTYD IN MY GEDAGTES.
EK IS NOU 91 JAAR OUD EN NOG STEEDS AKTIEF EN KREATIEF. DIE POLIO HET METTERJARE MY BENE VERSWAK MAAR EK LOOP GOED GENOEG MET MY KRUKKE EN REIS NOG BAIE ROND.
MET WAARDERING VIR JOU STEEDS KREATIEWE BESTAAN. GOEIE EN DANKBARE WENSE VIR JOU.
TT CLOETE
19 Junie 2015 2:38nm
Liewe Prof Cloete,
(dit klink na ‘n mengsel van formeel en informeel, maar help my
gerus maar reg)
Die onverwagse ontvangs van jou e-pos van 11 Junie, het kosbare
gevoelens en herinneringe in my losgemaak…..
Dit was destyds vir my ‘n besondere voorreg en plesier, om die
portret van jou te kon uitvoer en toe boonop daarna, uitgenooi is na die
Staatsteater, waar ek jou persoonlik kon ontmoet. Annekie Botha was nog destyds
die skakelpersoon.
Ek het ‘n bekentenis om te maak: Ek is maar al die jare nogal
‘kieskeurig’ oor die keuse van indiwidue van wie ek portrette maak, aangesien
daar noodgedwonge a.g.v. my intense fokus, ‘n magiese energie begin ontstaan,
(wetend of onwetend) tussen my en die persoon.
Ek het egter nie een oomblik geaarsel toe Annekie die versoek
aan my rig nie.
Daar was klaar 3 goeie redes:
Jou diepsinnigheid.
Jou klassieke gelaatstrekke.
Annekie se vertellings en haar respek vir jou.
Deur die jare heen, het ek egter steeds gehunker na ‘n meer
informele ontmoeting tussen ons.
Twee dinge sal my gelukkiger maak as die ontvangs vd e-pos:
Eerstens:Aangesien ek maar ‘n ‘hard-copy’ meisie is en nog altyd
van ‘regte’ briewe hou, sal dit vir my baie beteken as jy eendag tog vir my ‘n
‘regte brief’ skryf en na my posbus stuur.
Aleta Michaletos
Posbus xxxxx
Menlo Park
Pretoria
0102
Tweedens: Ek vertrou dat ons mekaar tog weer na al die jare sal
kan ontmoet.
Natuurlik is ek aangenaam verras om te hoor dat jy op verskeie
maniere (geeneen waarvan ek bewus was nie) deur die jare, my doen en late volg.
Die bekentenis ontlont ‘n energie van sy eie.
Ek is daarvan oortuig dat die skeppingsdrang- en kreatiewe
uitlewing daarvan, die Elixir van die lewe is. Dus vervaag al die ander en word
bysaak.... Dit is dus geen verrassing om te verneem dat jy nogsteeds reis en
aktief en kreatief is nie.
Nogmaals dankie vir die ‘tasbare’ kontak, ek sien daarna uit om
weer van jou te hoor.
Glimlaggend,
Aleta
28 Junie 2015 12:34 nm
liewe aleta
baie dankie vir jou vriendelike brief. ek is
dankbaar dat ek weer met jou kontak kon maak en dat jy my brief beantwoord het.
omdat ek in my later jare al meer gely het van die
nagevolge van die polio wat ek op my 19de jaar opgedoen het, is dit vir my
makliker as mense vir my kom kuier in plaas van die omgekeerde.
jy kan gerus vir my kom kuier. ek woon alleen in my
eie huis en word versorg deur 'n swart xhosavrou wat al van 1970 af deel van
die familie is. sy is 'n baie goeie kok en onthaal graag. as jy kan kom kuier,
doen dit gerus, met vooraf waarskuwing, en geniet midagete by ons.
ek is nog steeds produktief en my dae is vir my te
kort, al is ek al 91 jaar oud.
ek gaan soos jy vra 'n regte brief in my handskrif
skryf.
met vriendelike groete en liefde.
Tt
5 Julie 2015 8:22nm
Liewe ‘tt’ Theuns,
Ek voel ook innig dankbaar vir die onverwagse
korrespondensie wat tussen ons opgevlam het en nou ook die daadwerklike
moontlikheid, om ‘n besoek aan jou te kan realiseer.
My mammie was vir ‘n week lank (met ‘n
longaandoening) gehospitaliseer en het ek haar daagliks besoek. Sy is verlede
Donderdag ontslaan en versterk nou geleidelik. Sy sal in November 88
wees.
Toe ek jonk was, was my innige vriende 40-50 jaar
ouer as ek. Nou dat ek self ouer is (reeds 63) het ek onbepland, heelwat jonger
vriende ook. Tydgenote het net vir een of ander rede, nog nooit vir my gewerk
nie, maar wel geesgenote wat kan strek oor kleur, politiek, Godsdiens, geslag,
ouderdom en klas.
Ek is heel tevrede met my eie geselskap en raak al
hoe meer kieskeurig oor wie ek my tyd mee deurbring. Ek verstaan dus dat jy
dieselfde voel en as gevolg daarvan, is jou uitnodiging aan my om jou te
besoek, vir my dubbeld so kosbaar.
Jy is gelukkig en bevoorreg om die getroue Xhosa
–vrou te hê wat jou liefdevol in jou eie huis en bekende omgewing, kan versorg.
Mens skep mos jou nessie wanneer jy jonk en energiek is en wanneer al jou
gedagtes uiteindelik ryp is om te pluk en die boom swaar dra daaraan, wil jy
nie kosbare tyd verkwis deur eers weer van voor af nuwe landerye om te skoffel
nie.
‘n Woud is nog altyd vir my ‘n metafoor waarmee ek
kan identifiseer. My seun bly in Londen en hy weet as ek kom kuier moet hy my
na ‘n woud neem om te kan stap. Om in die natuur te stap, maak my sielsgelukkig
en jy weet nie dat ek nog meer skryf as wat ek skilder. (Dis net soveel
vinniger..) Ek sien in die onbenulligste dinge, groot lewenswaarhede raak, en
skryf dit dan naarstiglik neer wanneer ek weer by papier en pen uitkom. So ‘n
onverwagse geskenk laat my altyd skatryk en bevoorreg voel. As ek dit egter nie
betyds kon neerskryf nie, is dit ‘n geweldige verlies en treur ek oor dit wat
verlore is en verdamp het….. maar jy weet seker presies waarvan ek praat….
Ek weet nie of ek werklik mense bejammer wat
hulself nie besig kan hou nie en of ek dalk net effens ongeduldig en dalk ook
‘jaloers’ is, op al hul verkwiste tyd….
Ek is baie verdraagsaam maar minder só, wanneer
mense eensydig ge-‘entertain’ wil word. Mens voel mos maar altyd daarna moeg en
gedreineer.
Die heerlikste ontmoetings is wanneer daar
belangstelling en leergierigheid teenwoordig is. Vrae wat aan mens gestel word,
(soms selfs onskuldig) kan mens tot diep insigte oor jou eie werk bring en
omdat ‘n antwoord altyd verwag word op ‘n onverwagse vraag, moet mens dit
behoorlik formuleer en in ‘n sinvolle antwoord verpak. Jy beantwoord vir
jouself ‘n vraag, wat jy nie voorheen kon formuleer nie.
Soms wens jy tydens en daarna, dat jy jou organiese
en vloeiende gesprek op band vasgelê het. Van ‘n mens se diepsinnigste
gedagtes, verdamp soms in ‘n vakuum van verlange.
Sedert 2000 was ek was al 3 maal bevoorreg om in
die Cité Internationale des Paris, te kan bly. Daar woon ek dan, aangrensend
aan die Seine en by Pont Marie, in ‘n klein studio in die hart van Parys, waar
ek omring is met kreatiewes van oor die hele wereld. Musikante, skilders,
skrywers, digters, filmmakers, kan daar na hartelus skep en die wat wil, kan
saam werk aan ‘n konsep of projek. Ek voel slegs daar werklik kunstenaar. Daar
word ek nie gekwalifiseer as ‘n man se vrou, ‘n moeder, ‘n ouma, ‘n dogter,
suster, tannie of iets behalwe ‘n mens en ‘n kreatiewe wese nie, ek is ‘n
kunstenaar….. daar is my tyd my eie en werk ek soms deur die nag om klaar te
maak wat ek begin het… Hier word alles net begin, maar selde voltooi….
Aanvanklik sou ek 2 maande gaan maar dit is vir my
ook ‘n geweldige ontbering om so lank weg te wees. Mens voel of jy ‘n
naelstring geknip het met jou terugkoms. My kompromie is nou 1 maand. Maar ek
wéét, dat wanneer ek eers daar is, gaan ek weer nie wil terugkeer nie.
Nes jy, glo ek aan die balans van uiteenlopendes.
Jou woorde "Gestremdheid het my vleuels gegee” is die taal wat ek verstaan
en praat en wat die kern in my kunsskepping is.
Ek vertrek XX Augustus na
Londen (na my seun) en moet dan eers X Sept. in Parys wees. Daar bly ek dan to XX Sept. en gaan weer terug Londen toe. X Oktober vlieg ek terug na SA.
Daar is baie om te doen voor ek vertrek, maar ek
gaan my uiterste bes probeer om voor my vertrek, eers vir jou te kom kuier. Dit
gaan my siel voed….
Baie dankie ook dat jy gewillig is om ‘n brief in
jou handskrif, vir my te skryf….
Liefdegroete,
Aleta
29 Julie 2015
En vandag…… die hartseernuus……. Ek wou volgende
week sy uitnodiging om middagete by hom te geniet, nakom.
Of die beloofde brief geskryf is en of dit reeds
gepos is, weet ek nie…..
Maar vanmiddag het ek naarstiglik in ‘n kas, tussen
al my kosbare herinneringe wat o.a. uit uitknipsels, dokumente, briewe en
getekende programme gesoek. Daar kom ek toe af op ‘n getekende program van die
aand. Maar wat ek totaal van vergeet het en sekerlik die kosbaarste van alles,
was die ontdekking van ‘n handgeskrewe brief (tesame met ‘n getikte kopié) wat
hy 25 September 1994 aan my gestuur het!
Ek dank onse Hemelse Vader, dat ons toe nog op
posaflewering kon staat maak…….sodat ek nou tussendeur my oneindige hartseer en gevoel van verlies, nogsteeds dankbaar kan wees.....
© Aleta Michaletos
aletam@icon.co.za
www.aletamichaletos.com